Pide is ’n Turkse gereg van pizzadeeg wat soos ’n pantoffel gevorm is met ’n soutige vulsel.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min.
Gaarmaak: 10 min.
Deeg
5 g gis
5 ml (1 t) suiker
100 ml louwarm water
250 ml (1 k) meel
5 ml (1 t) sout
1 eiergeel gemeng met 5 ml (1 t) water
Vulsel
300 g maalvleis, gaar
1 suurlemoen, skil
2 hande vol spinasie, gekap
5 ml (1 t) vinkelsaad
5 ml (1 t) fyn koljander
’n hand vol pietersielie
Voorverhit die oond tot 200 ˚C.
- Deeg Sit al die bestanddele in ’n bak en meng tot ’n deeg vorm. Keer dit uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en knie 5 min. of tot glad. Laat staanr 30 min. op ’n warm plek of tot die grootte verdubbel het.
- Vulsel Meng al die bestanddele in ’n bak en sit eenkant.
- Verdeel die deeg in die helfte en rol elkeen in ’n reghoek uit. Skep die helfte van die vulsel in die middel van elkeen. Vou dan albei kante oor terwyl jy ’n gaping in die middel los en knyp die punte saam.
- Plaas op ’n gesmeerde bakplaat, verf met die eierwas en bak 10 min. of tot goudkleurig.
Deur Hope Malau
Foto: Megan Miller